OPERATION SHANELA II: 487 MENSE IN DIE NOORD-KAAP IN HEGTENIS
Die SAPS in die Noord-Kaap het altesaam 487 mense in hegtenis geneem tydens Operation Shanela II.
Die operasie het van 26 Oktober tot 1 November in al vyf distrikte van die provinsie plaasgevind.
Die geïntegreerde operasie het padblokkades, voertuigkontrolepunte, stop-en-deursoekaksies, voertuigpatrollies en die opsporing van gesoekte verdagtes ingesluit.
Volgens die SAPS is 312 verdagtes vir verskeie misdrywe in hegtenis geneem, terwyl speurders nog 175 gesoekte verdagtes opgespoor en gearresteer het.
Die arrestasies hou verband met onder meer moord, poging tot moord, ernstige aanranding, verkragting, huisbraak, onwettige drankhandel, dwelmhandel en bedrog.
Die polisie het ook inspeksies by drankwinkels, skrootwerwe, plase, myne, ondernemings en ander sakepersele uitgevoer.
Alkohol, gevaarlike wapens, dagga, dwelms en ’n onbekende bedrag kontant is gekonfiskeer.
Die provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het polisiebeamptes en ander wetstoepassingsvennote geloof vir hul samewerking.
Die SAPS sê hierdie operasies is ook deel van voorbereidings vir die Veiliger Feesseisoen en die komende plaaslike regeringsverkiesing