RITCHIE-MA EN DOGTER HAWELOOS NA VERMEENDE BRANDSTIGTING
’n Enkelma en haar sesjarige dogter van Ritchie het hul huis en al hul besittings verloor nadat hul plakkershut in Stofdraai na bewering aan die brand gesteek is.
Die 31-jarige Alexis Masaile sê ooggetuies het beweer dat iemand paraffien op die struktuur gegooi het voordat dit aan die brand geraak het.
Masaile en haar dogter was gelukkig nie tuis toe die brand uitgebreek het nie.
Sy beweer dat ’n brandweerwa ongeveer 45 minute geneem het om vanaf Kimberley op die toneel te kom omdat Ritchie se brandweerwa buite werking was.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit het bevestig dat die plaaslike brandweerwa buite werking was en dat kleiner brandbestrydingsvoertuie as ’n tydelike maatreël beskikbaar gestel is.
Die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting. Niemand is nog in hegtenis geneem nie