OORSIG BESOEK BY HARTSWATER
Die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid, Nontobeko Vilakazi, het ’n toesigbesoek aan die Connie Vorster-hospitaal in Hartswater gebring.
Die besoek het die LUR die geleentheid gebied om eerstehands na die hospitaal se bedrywighede te kyk, insluitend die vloei van pasiënte en die toenemende druk weens ’n groter aantal pasiënte.
Vilakazi het ook met hospitaalbestuur oor uitdagings gesels, waaronder ’n tekort aan verpleegkundiges met kritieke vaardighede.
Sy sê dié tekort is ’n nasionale uitdaging, maar word veral in die Noord-Kaap gevoel weens die provinsie se groot geografiese gebied en landelike aard.
Die LUR het verder beklemtoon dat die instandhouding van openbare gesondheidsfasiliteite verbeter moet word.
Sy het kommer uitgespreek oor vandalisme en diefstal van toerusting en toebehore, en ’n beroep op gemeenskappe gedoen om hul gesondheidsfasiliteite te beskerm.
Vilakazi het ook gesondheidswerkers bedank vir hul toewyding onder moeilike omstandighede.
Meer as 80 persent van die bevolking maak volgens die departement van openbare gesondheidsdienste gebruik, en die versterking van primêre gesondheidsorg bly daarom ’n belangrike fokus.