Loading...

NewsDesk

NewsDesk

WÊRELD VOEDSELDAG WORD IN KALKSLOOT GEVIER

Community
Rodrick Titus
Thu, 22 Oct 2026

WÊRELD VOEDSELDAG WORD IN KALKSLOOT GEVIER

Wêreld Voedseldag word tans in Kalksloot buite Upington, binne die Dawid Kruiper-munisipale gebied, gevier.

Die fokus van vanjaar se geleentheid is op die belangrike rol van landbou in die versekering van voedsel­sekerheid en die verbetering van gemeenskappe se toegang tot voedsame en bekostigbare kos.

Die LUR’e vir Maatskaplike Ontwikkeling en Landbou is tans by die volgepakte gemeenskapsaal in Kalksloot, waar gemeenskapslede en verskeie belanghebbendes byeen is.

Die LUR’e, Mase Manopole en Neurrene Klaaste, het direkte interaksie met inwoners en bespreek onder meer die uitdagings wat gemeenskappe rondom voedsel­sekerheid ervaar, asook die moontlikhede wat landbou bied om plaaslike voedselsisteme te versterk.

Die geleentheid bied ook ’n platform vir die regering, landbou-belanghebbendes en die gemeenskap om saam te kyk na maniere waarop inwoners meer betrokke kan raak by landbou-aktiwiteite en hoe voedselproduksie op gemeenskapsvlak uitgebrei kan word.

Die boodskap vanuit Kalksloot is dat voedsel­sekerheid nie slegs oor toegang tot kos gaan nie, maar ook oor die skep van geleenthede vir gemeenskappe om self voedsel te produseer, ekonomies aktief te wees en ’n meer volhoubare bestaan te bou.

Die Wêreld Voedseldag-geleentheid in Kalksloot beklemtoon dus die belangrikheid van samewerking tussen die regering, landbousektor en gemeenskappe in die stryd teen honger en voedselonsekerheid in die Noord-Kaap.