JTG-amptenare in kommersiële misdaadhof
Drie amptenare van die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap sal op 6 Oktober in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Kimberley verskyn.
Hulle staan tereg op bewerings van onder meer korrupsie, bedrog, kuberbedrog, kubervervalsing, uitgifte van vals dokumente en oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Die staat sal na verwagting tydens die hofverskyning dokumente aan die verdediging bekend maak.
Die opgeskorte munisipale bestuurder, Kagisho Klaas Teise, het vroeër ’n dringende aansoek teen sy voorsorgskorsing gebring.
Die Noord-Kaapse hooggeregshof het die aansoek op 25 Augustus van die hand gewys en bevind dat die skorsing nie onwettig of onbillik was nie. Die aansoek is ook met koste van die hand gewys.