KIMBERLEY-MAN SKULDIG AAN MOORD
’n 31-jarige inwoner van Kimberley, Phillipus Adrian van Wyk, is in die Hooggeregshof in Kimberley skuldig bevind aan die moord op sy vriend, Duncan Cameron.
Van Wyk is skuldig bevind aan moord, terwyl sy medebeskuldigde, die 43-jarige Steven Francois Coetzee, aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind is.
Die mans het Cameron op 12 November 2022 by Coetzee se huis in Herlear, Kimberley, aangerand. Hy is geskop, met die vuiste geslaan, sy kop is teen ’n muur gestamp en hy is verwurg.
’n Lykskouing het later bevestig dat Cameron aan stomp koptrauma en verwurging gesterf het.
Regter G. Nxumalo het Van Wyk se weergawe verwerp en bevind dat die staat se getuienis sy betrokkenheid by die noodlottige aanval ondersteun.
Die hof het egter bevind dat die staat nie kon bewys dat Coetzee die bedoeling gehad het om Cameron te vermoor nie. Getuienis het ook aangedui dat Coetzee hom later van die aanranding gedistansieer en gehelp het om die polisie en ambulans te ontbied.