Upington man gestraf
n 42-jarige man van Upington, Jacob Beukes, is tot ’n effektiewe agt jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy sy 47-jarige lewensmaat met ’n knopkierie aangerand het. Beukes het skuldig gepleit op aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die voorval het in Februarie verlede jaar by hul huis in Khoisan Valley plaasgevind. Die hof het gehoor dat Beukes die vrou met ’n knopkierie geslaan het, selfs nadat sy opgehou het om hom aan te val en wegbeweeg het. Hy het erken dat hy die perke van selfverdediging oorskry het. Die Upington-streekhof het hom tot tien jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee jaar opgeskort is. Hy sal dus effektief agt jaar tronkstraf uitdien. Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.