DA vra meer Jo-Jo-tenks vir inwoners van Chris Hani-nedersetting
Die Demokratiese Alliansie in Warrenton het 'n petisie begin waarin dringende optrede geëis word om die waterkrisis in die Chris Hani-nedersetting aan te spreek.
Volgens die DA is sowat 150 huishoudings in die ou Slangheuwel-gedeelte reeds tot drie jaar lank sonder betroubare lopende water en is hulle tans afhanklik van slegs twee Jo-Jo-tenks.
Die party sê bejaardes en mense met gestremdhede moet swaar waterhouers oor lang afstande dra, terwyl sommige inwoners selfs die besige N12 moet oorsteek om water te bekom.
Die DA eis dat die Magareng Munisipaliteit minstens twee bykomende Jo-Jo-tenks installeer, die oorsaak van die langdurige wateronderbrekings oplos en verseker dat inwoners toegang tot hierdie basiese mensereg het. Handtekeninge vir die petisie word tans ingesamel.