DA eis dringende herstel van elektrisiteit in Dakota
Die Demokratiese Alliansie doen 'n dringende beroep op die Dawid Kruiper Munisipaliteit om die elektrisiteitsvoorsiening aan huishoudings in Dakota en ander dele van Upington onmiddellik te herstel. Baie inwoners is sedert kabeldiefstal tydens die Covid-19-pandemie steeds sonder krag.
Die oproep volg nĂ¡ die tragiese brand in Eerstestraat waarin 'n 19-jarige vrou en 'n eenjarige baba hul lewens verloor het. Soos baie ander huishoudings in die gebied, was die gesin op kerse aangewese omdat hul elektrisiteit nog nie herstel is nie.
Hoewel die oorsaak van die brand nog ondersoek word, beklemtoon die tragedie die gevaar daarvan om gemeenskappe vir jare sonder basiese dienste te laat.
Die DA doen 'n beroep op die munisipale bestuurder, Elias Ntoba, om die herstel van elektrisiteit dringend te prioritiseer en betuig ons innige meegevoel met die familie wat deur hierdie tragedie geraak is.