Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke stel begroting van R2,347 miljard bekend
Die LUR vir Paaie en Openbare Werke in die Noord-Kaap, Fufe Makatong, het die departement se begroting van R2,347 miljard vir die 2026/27-boekjaar in die Provinsiale Wetgewer ter tafel gelê.
Volgens die LUR sal die begroting infrastruktuurontwikkeling versnel, dienslewering verbeter en volhoubare werksgeleenthede regoor die provinsie skep.
Die grootste gedeelte van die begroting, sowat R1,771 miljard of 75 persent, is vir padbou, instandhouding en rehabilitasie geoormerk. Nog R247 miljoen is aan openbare werke-infrastruktuur toegeken, R221 miljoen aan administrasie en R108 miljoen aan gemeenskapsgebaseerde programme.
Belangrike projekte sluit die voortsetting van Operasie Vala Zonke, die uitbreiding van die departement se Yellow Fleet, herstelwerk aan vloedbeskadigde paaie en samewerking met munisipaliteite en SANRAL in.
Meer as 22 600 werksgeleenthede sal na verwagting deur die Uitgebreide Openbare Werkeprogram en die Phakamile Mabija-leerlingskapprogram geskep word om jongmense met tegniese en ambagsvaardighede toe te rus.
Makatong sê die begroting weerspieël die regering se verbintenis om ekonomiese groei te bevorder, infrastruktuur te verbeter en dienslewering aan inwoners van die Noord-Kaap te versterk.