optimisme oor begroting
Die Demokratiese Alliansie sê hulle is versigtig optimisties oor die provinsiale begroting wat deur die LUR van Finansies voorgelê is. Volgens die party is hulle veral bemoedig deur sekere beginsels van goeie regering en finansiële bestuur wat in die begroting weerspieël word.
Die DA stem saam dat munisipale dienslewering en infrastruktuur dringend verbeter moet word om ekonomiese groei te bevorder. In baie dele van die Noord-Kaap sit inwoners egter steeds sonder betroubare watervoorsiening, ondanks die feit dat twee van Suid-Afrika se grootste riviere deur die provinsie vloei. Die party sê swak instandhouding van infrastruktuur en die misbruik van openbare fondse is groot oorsake hiervan.
Die DA het ook kommer uitgespreek oor munisipaliteite se groeiende Eskom-skuld. Van die sestien munisipaliteite wat vir die skuldverligtingsprogram gekwalifiseer het, is drie reeds uit die program verwyder.
Die party verwelkom verder die LUR se erkenning dat infrastruktuurbestuur in die provinsie tekort skiet. Hulle hoop dat ’n nuwe provinsiale infrastruktuurplan uiteindelik tot werklike projekte en beter dienslewering vir inwoners sal lei.